Sintekens

Ons Germaanse voorouers het baie waarde geheg aan tekens of ook bepaalde voorwerpe wat hulle by hulle gedra het. Onder hierdie tekens of voorwerpe het talismanne, amulette, mistieke sleutels, hangertjies, runetekens en familiewapens getel en is sintekens genoem omdat hulle sin of betekenis gedra het. Baie van hierdie tekens was nou verwant aan runetekens. Hierdie tekens was in rooi geverf (om die bloedband aan te dui) op skilde en die huise van die ou Germane. Elke sibbe het ’n eie teken gehad, maar elke individu binne die sibbe het ’n eie teken gehad wat ooreenkomste getoon het met die familieteken. Aan die sinteken van elke individu kon al bepaal word aan welke sibbe so ’n persoon hoort en ook aan welke stam. Hierdie sibbeteken was die voorloper van die familiewapen. Hierdie tekens is deur die familie met trots gebruik. Die leuse was: Trou aan die sibbe! Trou aan die sibbeteken! Produkte wat deur ’n persoon of familie geproduseer was, is met die familieteken gemerk, asook hulle werktuie en ook hulle vee (aan die horings gebrand). Toe heinings later gekom het, het hierdie tekens gepryk aan die hekke of toegangspoorte van die landgoed van die familie of sibbe. Die logo’s wat maatskappye vandag gebruik stam uit hierdie ou gebruik.

Die mees bekende sinteken in die wêreld is die swastika of hakekruis of sonwiel. Dit was beskou as ’n gelukbringer en baie Germaanse vroue het nog tydens die eerste eeue van ons jaartelling ’n klein swastika gedra (van koper) wat aan haar gordel vasgemaak was. Met haar dood is sy ook met haar swastika begrawe (of veras).

Swastika
Skelet van 'n Frankiese vrou uit die 7de eeu met 'n swastika, sleutels en runeteken.

Baie Germane het runetekens by hulle gedra. In Sanskrit beteken die swastika ‘dit is goed’ en staan simbool vir welsyn en geluk. Die swastika simboliseer ’n ronddraaiende jaar van vier seisoene en dit dui weer op oneindigheid. Die swastika staan ook simbool van die vier windsterke, maar dit simboliseer ook die Son. Die swastika is al vir 5,000 jaar bekend onder die Hindoeïsme. Na die kerstening van die Germane het die swastika bekend gestaan as die Duiwelswiel. Veral na die tweede wêreldoorlog is hierdie teken met afkeur bejeen omdat dit vir politieke doeleindes aangewend was.

Die Germaanse vroue het ook 'mistieke' sleutels gedra wat aan hulle gordels geheg was. Hierdie sleutels het in die tyd simbool gestaan vir outoriteit. Ook het alle priesteresse en priesters sleutels gedra. Die Romeinse God Janus en die Romeinse Godin Cybele was met sleutels geassosieer. Vergelyk ook Matt 16:19 waar 'sleutels van die koninkryk' vermeld word. Na die dood van 'n Germaanse vrou is sy met haar sleutels begrawe of veras.

Die kerk het herhaaldelik die dra van sintekens en ander geluksvoorwerpe verbied. Dat ook kerklike ampsdraers amulette en talismanne gedra het blyk uit die Konselie van Agde in 506 waar ampsdraers verbied was om dit te dra. Ook al het hulle bybeltekste by hulle gedra, was die beskou as duiwelswerk en moes oortreders uit die kerk gegooi word. Tog het die kerk baie groot moeite gehad om hierdie gebruik uit te roei. In 1080 het pous Gregorius VII die Deense koning Haakon vermaan om hierdie gebruik onder die priesters ’n halt toe te roep. Die dra van amulette en talismanne onder kerklike ampsdraers sou nooit uitgeroei word nie. Die dra van ’n miniatuur kruisie (en ook ’n Jesusfiguur aan ’n kruis) aan ’n halsketting of gordel, sou die plek inneem van ander talismanne en amulette.

Die kruis as sinteken

Alhoewel die kruis vandag dikwels beskou word as 'n Christelike teken, is die kruisteken baie ouer as die Christendom self. Trouens die eerste Christene het die kruis juis nie met die Christendom geassosieer nie en juis afstand probeer neem van die kruisteken omdat dit 'n Heidense simbool was. Die kruis in verskillende vorme, het simbool gestaan vir stryd (gekruiste swaarde), gevaar, fout (teken van 'n verkeerde antwoord: x), afweer, beskerming, seën, gunstige omstandighede, voorspoed, geluk (soentjies xxx!) en self die lewe na die dood. Terloops, die woorde seën, sein, sinjaal, signal (Eng) en signature (Eng) is afkomstig van die Latynse signum ( teken van die kruis). In Middelnederlands het seghen (seën) ook al die betekenis gehad van 'maken van een kruis'. Die eenvoudigste handtekening vandag is om 'n kruis te maak (signature) en stam uit die verre verlede. Die Noorse kruis (op Skandinawiese vlae) simboliseer juis die sterfdag: 'n baie belangrike gebeurtenis. Die horisontale baan dui op die lewensloop van die mens. Die vertikale balk dui op die oomblik wanneer die stoflike lewe oorgaan na die geestelike lewe. Die aardse lewe is korter as die lewe na die dood.

In die ou Germaanse- en Keltiese godsdiensbeoefening het die kruis en sirkel 'n baie belangrike rol gespeel (vergelyk die Keltiese kruis). Talle rituele het plaasgevind binne 'n ronde sirkel (ook Sonwiel of Sirkelkruis) wat met klippe uitgepak was of met 'n swaard of staf op die grond geteken was. Die sirkel is met 'n kruis in 4 dele verdeel (vergelyk die Swastika). Die 4 dele was gewy aan die 4 elemente: water, vuur, lug en aarde. Die kruisteken het die bewaarders van die Vier Windstreke (Noord, Suid, Oos en Wes) voorgestel wat opgeroep was om die ritueel te beskerm. Die kruispunt was die middelpunt of sentrum van die ritueel.

Ook is dit bekend dat die ou Germane nog voor die koms van die Christendom, die hamerteken (of kruisteken) wat verbonde was aan die God Donar/Thor, gemaak het op hulle huise, stalle en landerye om bose geeste weg te hou. Vir die ou Germane was die hamer 'n heilige simbool/gereedskapstuk. Kontrakte is met 'n hamer verseël (vergelyk vandag die slaan van die hamer in die geregshowe). Ook is huwelike verseël met die slaan van die hamer, of die maak van die hamerteken.

Die eerste Christene het ook die Ankh (Egiptiese simbool vir ewige lewe) as simbool vir die Christendom aanvaar. Maar ook die Anker (etimologies verwant aan Ankh en afkomstig van Proto-Indoeuropese wortel *ank-) is aanvaar as simbool vir die Christendom. Ook die Tau-kruis word beskou as 'n Christelike simbool (teken wat Israeliete met bloed tydens Pase op deurposte aangebring het). Die pouslike kruis bestaan uit drie horisontale balke en is verwant aan die Latynse kruis (†). Die Kelte het van oudsher 'n kruis gebruik wat verwant is aan die Latynse kruis. In die middel van die Keltiese kruis is die Sonwiel, wat ook by die Germane gebruik was. By die Germane was die bekendste kruise die Swastika (hakkekruis, Ysterkruis, Noorse (of Skandinawiese) kruis en die diagonale kruis. Na die kerstening van die Germane is die diagonale kruis 'n St. Andreas-kruis genoem en die horisontale/vertikale kruis 'n St. George-kruis.

Ankh kruis
Anker
Tau kruis
Pouslike kruis
Keltiese kruis

Christene beweer dat Konstantyn die kruis as teken vir die Christendom aanvaar het. Dit gaan hier egter om die Chi-Rho kruisteken. Die Chi-Rho kruis staan vandag ook bekend as die Konstantynkruis, Christusmonogram of ook Labarum. Chi-Rho staan vir die eerste twee Griekse letters van die woord Chrestos (Christus of kruis). Hierdie teken het 'n besondere gunstige betekenis gehad, naamlik: Onder die beskerming van die kruis. Konstantyn sou in 312 n.C. Maxentius verslaan het. Volgens Christelike oorlewering sou Konstantyn in 'n droom die Chi-Rho kruis gesien met die Son op die agtergrond. Die droom van Konstantyn is deur Christene uitgelê as Christus wat die Son (Songod) vervang. Die Chi-Rho teken was egter nie nuut nie, maar baie ouer as Konstantyn self.

Die Chi-Rho-kruis is beskou as sinoniem met 'n Chrestos (onder gunstige omstandighede). Maar die woord Chrestos (Christus of kruis) is ook baie ouer as die Christendom. By die ou Heidense Grieke was 'n Chrestos iemand wat orakels gewerp het en die orakels verklaar het. Hy/sy was 'n profeet en waarsêer en was beskou as 'n heilige persoon. Sy/haar simbool was 'n kruis. Met die koms van die Christendom word Jesus gelykgestel aan die Heidense Griekse Chrestos.

In Sumerië (huidige suide van Irak) is Chi-Rho-kruistekens op stene gevind wat dateer uit 2,500 v.C. Hierdie teken was verbonde aan die Godin Pax. Sy sou niet net as beskermer dien nie, maar ook as 'n simbool van vrede. Vandaar Pax Romana, Pax Americana, Pax Germanica, ens.

Die Chi-Rho-kruisteken is dikwels op munte afgebeeld. So pryk hierdie kruis op die munte van Ptolemeus III (247-222 v.C.), op die Griekse tetradrachmen (geldeenheid), op die munte van die Siriese koning Alexander Bala (146 v.C.), die munte van die Baktriese koning Hermaeus (138-120 v.C.), die munte van die Skyte (100 v.C.) asook munte van Romeinse Tranjanus Decius (249-251 n.C.) wat in Maeonië geslaan is.

Die Chi-Rho-teken word soms in 'n sirkel (son) geplaas. Die Chi-Rho kruis toon dan ook groot ooreenkomste met die Germaanse Wodan-kruis en die Keltiese kruis.

Die Chi-Rho kruis. Die CHi-RHO in 'n wiel of Sonsirkel. Die Germaanse Wodan-kruis met 9 sterre. Nege is 'n heilige getal en stel ook die 9 nagte voor wat Wodan aan die "Boom van Kennis" gehang het.

Die kruistekens is besonder gewild in die heraldiek en selfs logo's van moderne maatskappye.

Kruis Lotharinge
Wapen Rijnland
Logo Alfa Romeo
Logo Chevrolet
Hongaarse kruis

Die kruisteken was besonder gewild onder seerowers as teken van gevaar en ook van stryd.

Seerowersvlae

Kruistekens was aanvanklik nie by grafte geplaas nie, maar op plekke waar mense vermoor was. Die kruisteken word vandag steeds beskou as 'n simbool vir gevaar.

Gevaartekens

In Oos-Europa is die kruis van Lotharinge en die Ortodokse kruis baie gewild.

Vlag van Slowakye
Slowaakse Euro munt
Kruis van die Russies Ortodokse kerk

'n Aantal lande het 'n kruisteken in hul vlag opgeneem as nasionale embleem.

Vlag Switserland
Vlag Georgië
Vlag Griekeland
Vlag Orkney Eilande

Die strydvaardige Vikinge het die Noorse (of Skandinawiese kruis) as nasionale embleem aanvaar.

Sweedse vlag
Noorse vlag
Deense vlag
Yslandse vlag

Hieronder die kruis as simbool vir stryd of oorlog.

Ysterkruis
Nazi oorlogsvlag
Belgiese oorlogsvlag
Franse oorlogsmedaljes

Brittanje het 'n vlag wat saamgestel is uit die vlae van Engeland, Skotland en Ierland.

Engelse vlag +
Skotse vlag +
Ierse vlag =
Britse vlag

Kleursimboliek

Kleursimboliek het ook 'n belangrike rol gespeel by die ou Germane. Wit was 'n heilige kleur. Die priesteresse was in wit geklee. Bruide was in wit geklee en die feeskleur van die belangrikste religieuse feeste was wit. Die kleure van 'n begrafnis was beide wit en swart. Swart was eweneens 'n heilige kleur. Dit was die kleur van status en verhewenheid. Die Oudengelse woorde blæc "swart" en blac "bleek, blank" is beide afkomstig van die Proto-Indoeuropese wortel *bhleg- "brand, glansend, helder".

Die heilige kleure wit en swart is ook oorgedra na die Christelike godsdiensbelewing. Swart sou die kleur word van die kerklike ampsdraer. Dit het later die kleur geword van statusmotors en baie mense met 'n Germaanse afkoms dra die familienaam Swart (of de Wit). Die boonste kleur van die huidige Duitse vlag is immers swart, maar swart kom ook voor in die vlae van ander Duitse deelgebiede. Die woord swart is afkomstig van die Proto-Indoeuropese wortel *swer- en verwant aan die Germaanse Vuurreus Surt, waar ook swaard, Saturnus en Sater(dag) aan verwant is.

Die kleur rooi, was ook 'n heilige kleur. Dit het simbool gestaan vir bloed en die bloedband wat die familie byeen hou. Rooi is ook die kleur van die Joelfees (huidige kersfees). Rooi was ook soms met die Son geassosieer, maar meestal het geel simbool gestaan vir die Son. Rooi kom in talle familiename voor, soos Rood(t), Rode, Reid, Rothman ens. Rooi is in Oudengels read, in Oudfries rad en in Middelduits root, afkomstig van Proto-Germaanse *rauthaz en die Proto-Indoeuropese wortel *reudh-.

Geel is verwant aan geld, gold (Eng) en goud. Geel is in Oudengels geolu of geolwe, in Oudhoogduits gelo en in Oudnoors gulr, afkomstig van Proto-Indoeuropese *ghel-/*ghol-.