Kerstening van die Sakse

In die 3de eeu sou groot getalle Sakse vanuit die noorde van Duitsland na die Britse eilande verhuis. Saam met die aankoms van die Angele (ook uit Noord-Duitsland) en later die Vikinge, het die Keltiese volke in Brittanje ‘n minderheid geword teenoor die instromende Germane. Van hierdie Sakse wat reeds in Engeland gekersten is, het besluit om die Sakse op die vasteland te help kersten. Hulle het aanvanklik weinig sukses behaal. Van die eerste sendelinge was Edwalden, en later ook Lebunius.  Toe Bonifacius in 719 te Geismar die bekende heilige eikeboom laat afkap het, was van kerstening in Sakse nog weinig sprake.

Die Frankiese koning Karel die Grote wou baie graag hierdie gebied van die Sakse tot sy ryk toevoeg en ook die inwoners daarvan kersten. In 722 het hy sy eerste Sakse-oorlog onderneem om die Sakse te onderwerp. Hy laat soveel moontlik Germaanse heiligdomme verwoes, maar dit het sy verowerings-taak meer benadeel as bevoordeel, want die Sakse het daarna oorgegaan tot die vernietiging van kerke in Frankiese grondgebied. Karel die Grote laat in 722 die legendariese Irminsul (1) vernietig. Irminsul was geleë in Eresburg (vandag Marsberg) en was nie alleen ‘n belangrike religieuse simbool van die Sakse nie, maar ook ‘n belangrike plek waar die Saksiese leiers volksake bespreek het. Hier was dus die parlementêre gesag van die Sakse geleë. In 774 breek bloedige opstande teen die Frankiese oorheersing uit en hulle word uit Sakse verdryf. In 775 reageer die Franke met ‘n teenaanval. Die inval het met brute geweld gepaard gegaan en die Sakse het hulle oorgegee. Die koning van Sakse het na Denemarke gevlug maar later weer teruggekeer. In 778 trek die Saksiese koning Widukind weer op teen die Franke en ook hy laat ‘n spoor van vernietiging agter. Alle kerke op Saksiese grondgebied is afgebrand en die Franke is verdryf.

Karel die Grote kon die weerstand van die Sakse nie aanvaar nie. In 782 sou hy met ‘n groot leër teen die Sakse optrek. Die Sakse was gedwing om hulle te doop. In Sachenhain-bei-Verden het hy 4,500 edelmanne laat teregstel omdat hulle hul nie tot die Christendom wou bekeer nie. Trots en eer was met die dood gestraf.

Die militêre oorwinning oor die Sakse was al vernederend, maar die geweldadige kerstening was deur die Sakse beskou as ’n ultieme vernedering. In die Capitulatio in partibus Saxoniae wat in 782 te Lippspringe afgekondig was, was die doodstaf telkens vermeld aan diegene wat nie die knie voor die Christedom wou buig nie:

Ter dood veroordeling aan diegene wat met geweld ’n kerk binnedring…

Ter dood veroordeling aan diegene wat hullen nie hou aan die veertigdaagse vastyd nie….

Ter dood veroordeling aan diegene wat hulle dooies veras volgens die Heidense gebruik….

Ter dood veroordeling aan diegende wat weier om hulle tiendes aan die kerk te betaal…

Ter dood veroordeel word……ter dood veroordeel word…het dit weerklink.

Om die vervolging te ontvlug het die Sakse ‘letterlik’ na die kruis (kerk) gekruip. Die Christelik kerke wat soos paddastoele uit die grond gespring het, het ‘n veilige hawe gebied teen die Frankiese vervolging.

In 785 val die Franke die heiligste eiland van die Sakse, nl. Heligoland, binne. Daar het hulle die heiligdomme van die Saksiese God Fosite so deeglik moontlik vernietig. Van toe af het die kerstening van die Sakse vaart gekry.

In 792 het nuwe opstande gedreig en baie Sakse het openlik teruggekeer na hulle ou godsdiens. Karel die Grote het met ‘n nuwe plan gekom. Hy het die Sakse op groot skaal gedeporteer na ander dele van die Frankiese ryk. Dit het gebeur in 795, 797 en in 804. Op hierdie manier is een derde van die Sakse na Frankiese gebiede verskuif. Hierdie taktiek het gewerk. In 797 was die streng wetgewing bekend as Caputilatio in partibus Saxoniae vervang met minder strenge wette bekend as Capitulare Saxonicum wat meer gerig was op geldboetes.

Die onderwerping van die Sakse het langer as 30 jaar geduur en het die lewens van tienduisende mense gekos. Hierdie Saksiese oorloë was die langste, moeilikste en wreedste oorloë gewees wat die Franke ooit gevoer het. Die Sakse sou hierna troue bondgenote van die Franke geword het. Eenhonderd en vyftig jaar na die kerstening van die Sakse het Saksiese sendeling die Christelike geloof na die res van Europa help versprei.

(1a) Irminsul = Heer+man+suil.  Ook is Ermelo afgelei van hierdie stam.  Ermelo = (H)eer+man+loo. ‘Er’ of ‘Ir’ kom van die Germaanse woord ‘hari’. Hari was ‘n heuwel of ‘n koppie (meesal in ‘n bos). Vir ons Germaanse voorouers was dit ‘n heilige plek, maar die woord het ook die betekenis gehad van ‘strydperk’ of ‘strydmag’. Die Afrikaanse woord ‘heer’ en ook ‘eer’ kom van ‘hari’. Nog plekname met hari is Waalre, Losser en Mander (Manheri).

(1b) Irmin was ook 'n Germaanse God.