Kerstening van die Friese

Willibrord was die eerste groot Angelsaksiese sendeling onder die Friese. Hy het in 690 met sendingwerk onder die Friese en Franke begin. Op 22 November 695 het hy aartsbiskop van Utrecht geword met die opdrag om die Friese te kersten. Aanvanklik het die Friese geen probleem gehad met die koms van nog ‘n God nie en is Willibrord met ope arms ontvang. Hy het ‘n groot indruk gemaak op die Friese koning Radboud, wat hy byna bekeer het. Byna, want koning Radboud het reeds te kenne gegee dat hy die Christendom ten volle sou aanvaar en hy wou hom ook laat doop. Maar tydens die doopplegtigheid het die koning op die laaste nippertjie ‘n vraag gehad. Reeds met sy een voet in die doopvont, het die koning hom gerig tot biskop Willibrord met die vraag of die siele van sy oorlede voorouers nou in die hemel was of in die hel. Die biskop het verklaar dat hy hom ongelukkig moes meedeel dat die siele van die koninklike voorouers nie salig was nie en dat hulle in die hel sou wees. Hierop het koning Radboud uit die doopvont gestap en verklaar dat hy na sy dood veel liewer met sy voorouers en sy vriende en familie te midde van sy Heidense volksgenote in die hel wou verkeer, as met ‘n klein handjievol onbekende Christene in die hemel.

Willibrord was bitter teleurgesteld en het later dieselfde verhaal as volg vertel: 

Reeds het die koning met één voet in die doopvont gestaan toe die satan op hom afkom in die gedaante van ‘n engel en tot hom spreek:‘O sterke held! Wie het u so mislei dat u op die punt staan om die diens van u Gode ontrou te word? Laat u nie op ‘n dwaalweg lei nie en bly getrou aan die Gode wat u van kindsbeen  af ken. Dan sal ek u goeie wonings laat sien wat binnekort aan u sal behoort’ .“

Die kersteningsproses onder die Friese was moeilik, veral omdat die koning geen Christen wou word nie. In 714 ontbrand ‘n stryd tussen die Friese en die Franke (lg. was reeds gedeeltelik gekersten). Koning Radboud verdryf die Franke uit sy gebied en omdat daar baie Christene onder die Franke was,  is alle Christene in Friesland ook as vyand beskou. Koning Radboud gee dus opdrag on alle kerke te vernietig. Willibrord moes vlug vir sy lewe. 

Bonefatius of Bonifacius  (gebore as Wynfreth (Winfried)) in Engeland het hom geroepe gevoel om die Heidene in Germanië te bekeer. Sy Oud-Engels of Angelsaksies was nou verwant aan Fries. Hy het in 716 in Friesland aangekom, maar het dit moeilik gehad. Die Friese wou niks van die Christendom weet nie en hy moes noodgedwonge terugkeer. Twee jaar later sou hy weer ‘n poging aanwend. Hy gaan eers na Rome om daar goedkeuring te kry van Pous Gregorius II (715-731) en ontvang ‘n nuwe naam: Bonifacius (Hy wat goed doen). In 722 is hy benoem tot biskop-sendeling van die Germaanse gebiede wat hy onder kerklike gesag van Rome sou bring.

In 658 is tydens die Konsilie van Nantes besluit dat alle druïdestene en ook heilige bome en heilige boomstamme vernietig moes word. In 723 het Bonifacius gemeen dat dit tyd was om in die praktyk tot aksie oor te gaan. In Geismar naby Fritzlar op die grens tussen Hessen en Nedersakse het hy ‘n heilige eikeboom laat kap. Hy wou die Heidene laat sien dat daar niks sou gebeur as hy die boom laat kap nie. Die Heidene was stom verbaas oor die gebeure en ook die waagmoed wat Bonifacius aan die dag gelê het.

Die Heidene het verwag dat hul God Donar op Bonifacius sou toeslaan, maar niks het gebeur nie. Van die hout het hy ‘n kerk laat bou wat as sulks ‘n gruwel vir die Germane was, want eikehout was heilig. Hierna het talle Heidene hulle bekeer en dit is beskou as die begin van die kerstening onder Noord- en Middelduitse Germane.  Deur hierdie aksie wou Bonifacius aantoon dat die Germaanse Gode kragteloos was.

In 732 het Pous Gregorius III Bonifacius benoem tot aartsbiskop. Tussen 736 en 753 was Bonifacius werksaam as kerkhervormer aan beide kante van die Ryn. Hy het hom meer toegespits op die oostelike gedeeltes van die Frankiese ryk en het die steun van die adel in hierdie gebiede begin kry. Maar die Friese en die Sakse in die Noorde wou niks van die Christendom weet nie en dit was vir Bonifacius moeilik om te aanvaar.

Bonifacius het nooit hoop verloor om die Friese te bekeer nie. In 754 het hy met 52 volgelinge vanuit Utrecht vertrek. Hy sou reis tot in die noorde van Friesland. Op sy pad het hy alle heiligdomme van die Heidene verwoes. Eikebome is afgekap en altare vernietig. Hy het gehoop om op hierdie manier baie volgelinge te bekeer en te doop. Te Dokkum in Noord-Friesland het hy ‘n groot byeenkoms gereël waar die sakrament van die Heilige Vorsel op 5 Junie 754 bedien sou word. Maar op daardie oggend is hy en sy 52 volgelinge gekonfronteer met woedende Friese. Die skending van Germaanse heiligdomme was met die dood strafbaar. Die Friese het hom uitgedaag om sy God se hulp in te roep. Bonifacius het sy dik Latynse bybel te voorskyn gehaal en verklaar dat God hom sal beskerm. Die Friese het met hul swaarde dwarsdeur sy bybel gekap om Bonifacius te laat sien dat ook sy God kragteloos was. Bonifacius en sy volgelinge is gedood. Die kerk het hierop verklaar dat dit geen teregstelling was nie, maar dat ‘n roofbende op die groep toegesak het. Bonifacius en sy volgelinge het egter geen waardevolle besittings by hulle gehad nie. In 1962 is ‘n standbeeld opgerig te Dokkum in Friesland ter herdenking aan Bonifacius.