Die viering van 25 Desember of Kersfees

Hierdie gedeelte hang saam met die gedeelte wat handel oor die Germaanse Joelfees en behandel die herkoms van Kersfees.

Die dae voor en na 21 Desember het in die Noordelike halfrond bekend gestaan as die sonnestilstand. Die dag- en naglengte verskil baie min. Vanaf 25 Desember word die verskil merkbaar. Talle ou volkere het die Sonnewendingsfeeste op verskillende dae gevier afhangende van die lengte van die sonnestilstand en dus die “presiese” moment waarop die son die wending maak. Die meeste sonnewendingsfeeste in Europa is tussen 23 Desember en 6 Januarie gevier. Van al hierdie sonnewendingsfeeste het ons vandag drie feesdae behou, naamlik 25 Desember, 26 Desember en 1 Januarie. (1) Terloops, die maand Desember was 'n ou 'tiende' maand by die Romeine. Deci = tien en afkomstig van Indoeuropese *dek'm.

Dit is bekend dat die Grieke reeds honderde jare voor die koms van Christus op 25 Desember die Sonnewendingsfeeste gevier het. Dit is ook bekend dat die inwyding van die Kolos van Rhodos (of Helios in Grieks) plaasgevind het op 25 Desember 283 voor ons jaartelling, met sonsopkoms. Hierdie beeld van die Songod is 34 meter hoog en weeg 200 ton (een van die sewe wêreldwonders).

Ook in die Romeinse Keiserryk is daar op 25 Desember Sonnewendings-feeste gevier. Die belangrikste Songod van die Romeine tot ongeveer 300 nC was Sol Invictus (Onoorwinlike Son), maar die God Mithras se geboortedatum is ook op 25 Desember gevier. Daarna is ook nog Saturnalia (ter ere van die Landbougod Saturnus) en Larentalia gevier.

Dit klink miskien vreemd, maar die eerste Christene het tot en met die jaar 200 nie die geboortedag van Jesus gevier nie. Trouens, hulle het nie eens daaraan gedink om dit te vier nie, want die viering van ‘n verjaarsdag was tipies Romeins en Heidens en vir ‘n Christen of Jood was dit ondenkbaar om so ‘n fees te vier. Toe meer Heidene hulle later tot die Christendom bekeer het, het hulle voortgegaan om hulle verjaarsdae te vier.

In 221 het ‘n gesaghebbende offisier, Julius Africanus, besluit dat dit goed sou wees om die geboortedag van Jesus op 25 Desember te vier. Hy was ‘n aanhanger van Mithras, maar is tot die Christendom bekeer. Die geboortedatums van Mithras en Jesus sou dan saamval. Die biskoppe van daardie tyd was egter geheel en al gekant teen die viering van Jesus se geboorte. In 330 het Pous Julius I egter 25 Desember tot die geboortedag van Jesus verklaar, en daarmee het hy aan hierdie dag ‘n ander betekenis gegee. Nie die Son nie, maar Jesus was die “Onoorwinlike Son” (Sol Invictus) en die “Son van Geregtigheid” (Sol Justitiae) en die "Lig van die Wêreld".  Op 25 Desember 335 het die eerste Kersviering in Rome plaasgevind.

Na 335 het al meer biskoppe daaraan begin dink om die geboorte van Jesus te vier en talle datums is voorgestel as “geboortedag” van Jesus. In 354 vaardig Pous Liberius ‘n dekreet uit waarvolgens Christene Jesus se geboortedag op 25 Desember moes vier. Baie biskoppe was woedend oor hierdie besluit. Volgens hulle was daar 364 ander dae om uit te kies; 25 Desember was deur en deur ‘n Heidense dag en as sulks onaanvaarbaar. Hoewel hulle aanvanklik geweier het om gehoor te gee aan hierdie dekreet, het kerke langsamerhand as uitvloeisel van Konstantyn se versoenings-politiek 25 Desember begin aanvaar as Jesus se geboortedag.

Die meeste Christene neem aan dat Jesus in ‘n stal (vir diere) gebore is, maar dit staan nie in die Bybel nie. Lukas en Mattheus het hieroor geskryf. Lukas vertel dat Jesus in ‘n “krip” sou lê en in doeke toegedraai was. Die woord stal (vir diere) word nie vermeld nie. Die Griekse woord waaruit die vertaling vir krip gedoen is, is “phatne”. Dit kan vertaal word met voerbak, maar dit is nie die eerste woord waaraan ‘n Jood van daardie tyd sou dink nie. Die Jode het in daardie tyd hulle voedsel in houtbakke bewaar, en veral hulle brood (broodbak van vandag), wat dan in doeke toegedraai was om dit beter te bewaar. Dit is veel meer waarskynlik dat ‘n baba in so ‘n bak kon lê. Jesus sou as lewende brood vir mense gekom het, en nie vir diere nie (2), en sou dan in doeke toegedraai in ‘n houtbak neergelê word en nie in ‘n krip nie. Buitendien sou geen mens ‘n kind in ‘n voerbak vir diere laat lê nie vanweë die higiëne. Die geboorteverhaal van die stal en die kind in die krip kom van die God Mithras (3). Die huise van 2000 jaar gelede het baie anders gelyk as dié waarin ons vandag woon. Mens en dier het onder een dak geslaap. Ons Afrikaanse woord “woonstel” kom van “woonstal”. Terloops, die betekenis van Bethlehem is “Huis van Brood”.

Mithras

Vir ‘n lang tyd is die viering van Kersfees algemeen aanvaar, maar na die Hervorming het Godvrugtige Protestante dit verwerp. In 1644 toe die Puriteine ‘n meerderheid in die Engelse parlement behaal het, is verklaar dat 25 Desember nie meer as geboortedag van Jesus gevier sou word nie. Dit sou ‘n gewone markdag wees en sou bekend staan as “The Profane Man’s Ranting Day”. Op hierdie dag sou die polisie Kersfeeste opbreek, die versierings verwyder en die skuldiges arresteer.

Vir Protestants- Amerika was Kersfees ‘n “paapse” feesdag. ‘n Aansienlike deel van die Engelse koloniste het die Kersfeesviering beskou as Godslastering. Hierdie siening het geheers onder die Puriteine, Baptiste, Kwakers, Presbiteriane en Calviniste. In 1659 is die viering van Kersfees verbode verklaar in Massachusetts en hierdie wet sou 20 jaar van krag bly. In daardie tyd was 25 Desember ’n gewone werksdag en dit was selfs verbode om die dag vry te neem. Kersfees is verbied as “unseemly to the spiritual welfare of ye community”. In Boston was 25 Desember ook ‘n gewone werksdag en skooldag tot en met 1870. In 1836 was Alabama die eerste staat waar 25 Desember as openbare vakansiedag uitgeroep is.

Die viering van 25 Desember wat ons vandag Kersfees noem, is ‘n fees wat al baie duisende jare plaasvind. Ons huidige kalender kan ook beskou word as ‘n nie-Christelike kalender. Ons jaartelling begin 750 jaar na die stigting van Rome en nie in die geboortejaar van Jesus nie. 'n Christelike kalender sou beteken het dat Jesus in die jaar 0 op oujaarsdag gebore moes wees. Op die eerste dag van die nuwejaar sou Jesus dan een dag oud gewees het.

(1)  Die tydperk van die Sonnestilstand is die Saturnalia genoem en die tyd na Saturnalia tot en met die einde van die jaar was bekend as Larentalia, waarna die nuwe jaar kon begin.

(2)  Verg. Ook Joh 6:51: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het.  As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig lewe. En die brood wat ek gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

(3)  Interessant is dat baie eertydse Christene Jesus nie altyd beskou het as Goddelike wese nie,  maar as ‘n skepsel van God. Hierdie opvatting is gehuldig onder leiding van Arius. Om ‘n einde te maak aan hierdie gedagtegoed het Konstantyn ‘n aantal biskoppe byeengeroep om die saak te bespreek. Hierdie sinode sou later bekend staan as die Konsilie van Nicea en daar is by hierdie geleentheid besluit om die Goddelike status van Jesus te aanvaar. Jesus het hier gelyke status gekry met God die Vader. Die Goddelike Drie-eenheid is nie op hierdie sinode aanvaar nie, maar eers later. Dit was egter ook nie ‘n sinode soos ons dit vandag ken nie. Dit het twee maande geduur en talle biskoppe het gekom en gegaan. Dit was dus moeilik om te bepaal hoeveel biskoppe daar werklik was en of hulle ooit gestem het oor bepaalde sake. Van belang is dat Konstantyn die voorsitter was en hy het die aanwesiges eintlik gelei waar hy wou. Vir Konstantyn was dit belangrik dat Jesus gesien sou word as Seun van God en dus ook ‘n God. Die belangrikste doelwit van Konstantyn was die assimilasie tussen die Christendom en die Mithraïsme. Die Christendom moes aanvaarbaar gemaak word vir die Heidense Romeine.