Heksejag

Reeds vir baie duisende jare was daar in elke Germaanse nedersetting ‘n medisynevrou (of selfs meer as een). Sy was spesiaal deur haar voorgangster uitgekies en in die vak opgelei. Sy kon kruie meng, salf aanmaak en kruiedrankies berei om siekes te genees. Sy het haar ook op bonatuurlike magiese kragte beroep. In die Germaanse taalgebied is hierdie vakvroue Wicca's genoem (Wyses (of Wyse Vroue)) en in moderne Engels Witch. In Afrikaans kry ons nog die woorde wiggelary, wiggelroede en ook wik en weeg wat aan wicca verwant is.

Maar Wicca’s is soms ook Haegasussa genoem (haag + suster) en soms ook Haegtesse. Dit beteken ook Wyse of Hoge Vrou. Die woord Haeg is verwant aan die Germaanse God/Godin Hagal wat met Rune verband hou. Verder is die woord Haeg of Haag verwant aan hoog of hoogheid, haag, behaag, behae, heg, hek, heks en akkedis (of hagedis). Tes of Dis (van Haegtesse) is eweneens ’n heilige Vrou. Sien Dis onder Germaanse Gode. Die slang en die akkedis is immers beskou as beskou as wysheidsimbole. Die slang of akkedis wat homself aan die stert byt was gesien as 'n simbool van onsterflikheid en volmaaktheid. By die Grieke was dit die ouroboros.

Voor die kerstening van Germaans-Europa het die Wicca’s of Haegtesse (Hekse) hoë aansien in die gemeenskap geniet. Alhoewel die Hekse of Wicca’s geliefde en gesiene persone was, was hulle ook soms omstrede. Die rede hiervoor is dat hulle beide wit- en swart magie beoefen het. Die doel van wit magie is om siektes te genees (positiewe kragte). Die doel van swart magie is om teëstanders of opponente te na te kom (negatiewe kragte).

Tot ongeveer die 13 eeu, is heksery beskou as ‘n normale deel van die volkskultuur, waardeur die mens beheer probeer verkry het oor natuurverskynsels.  Teen die 14de eeu het die siening, onder kerklike druk, radikaal verander. Die Germaanse gemeenskap was teen dié tyd al vir die grootste gedeelte gekersten, maar die ou gebruike uit die verre verlede het bly voortleef. Die Wicca's of Hekse was steeds die dokters, psigoloë en adviseurs in die maatskappy. Dit was ‘n doring in die oog van die kerkvaders wat hierdie laaste Heidense bastion wou kelder. Hierdie kerkvaders het hulle motivering gevind in Exodus 22:18 waarin staan dat Hekse nie mag lewe nie. Die eens gewaardeerde en gerespekteerde Hekse word nou die parias van die samelewing - duiwelsgebroed. Hulle het vervolging in die gesig gestaar, en dit het gekom.

'n Deeglike studie gedoen deur Prof Karl Ernst Jarke van die Berlynse universiteit het in sy bestudering van die 17de eeuse strafsake aangedui dat sommige ter dood veroordeelde Hekse, inderdaad aspekte van die ou Heidense natuurreligie beoefen het.

Die Heksejag kan in drie fases verdeel word. Aanvanklik was die vervolging gemik teen medisynevroue. Later het die fokus verskuif na ander vroue wat nie noodwendig met medisynemakery te doen gehad het nie. Later het die fokus verskuif na ryk inwoners in die buurt en dit het meer om geld begin gaan, naamlik die inkomste wat uit die vervolging van Hekse verdien kon word.

Aanvanklik is die hekse meesal nog lig gestraf, maar met verloop van tyd het die strawwe al swaarder geword en in frekwensie toegeneem. Die hoogtepunt van die heksejag was tussen 1550 en 1650, met die ergste gevalle tussen 1610 en 1630. Die laaste teregstellings het plaasgevind in Nederland in 1610; in Engeland in 1684; in Frankryk in 1745, in Duitsland in 1775, in Switserland in 1782 en in Pole in 1793. Die Middeleeuse wette wat heksery in Brittanje verbied, is eers in 1951 afgeskaf.

Die mense uit dié tyd was besonder onkundig en hulle is deur die kerk onkundig gehou. Alle wetenskap of pogings tot nuwe uitvindings, of die logiese verklaring van gebeurtenisse, is in die kiem gesmoor. “Logiese” verklarings was die werk van die duiwel. Hierdie vroue was dikwels intelligent, aantreklik, kreatief en talentvol (die hoogste bome vang die meeste wind), maar is deur die kerk beskou as ‘n groot bedreiging vir die geloof omdat hulle met “duiwelsbedrywighede” besig sou wees.

Die eintlike vervolging van hekse het begin na die verskyning van ‘n boek, Malleus Maleficarum (in Nederlands bekend as “Heksenhamer”) uit die pen van die Duitse inkwisiteurs Heinrich Institoris en Jakob Sprenger in 1487. Daarin is aanwysigings gegee oor die vervolging van hekse. Die boek is geskryf na aanleiding van die berugte bul “Summis Desiderantes Affectibus” (1484) van Pous Innocentius VIII, waarin hy die kerklike jag op hekse geopen het. In die boek is nie alleen beskryf watter bose werke deur hekse veroorsaak is nie, maar ook die hele strafproses en hoe hulle gemartel moes word.

Aanvanklik was maar slegs ‘n paar vroue hekse, maar dit was nie lank nie of enige persoon kon as heks aangewys word. As die buurman siek was, het iemand hom getoor. As ‘n koei te min melk gegee het, was dit miskien die skuld van die buurvrou. As dit weke lank nie gereën het nie, was dit die skuld van ‘n vrou in die buurt. ‘n “Verdagte” kon by die dorpsbestuur aangegee word en is dan laat haal vir ondervraging en van daar af het alle ellende begin.

 

Dit was egter moeilik om te kon bewys dat iemand ‘n heks was. Daar is verskillende metodes gebruik om dit te kon bepaal, onder meer ‘n weegskaal. ‘n Heks moes op ‘n besem kon vlieg en kon dus nie swaarder as 50 kg weeg nie. Ons uitdrukking “wik en weeg” kom uit hierdie tyd. As ‘n volwasse vrou minder as 50 kg geweeg het, is sy verdink.

‘n Algemene gebruik was die waterproef. Omdat die duiwel die doopwater weggewys het, sou ‘n heks ook deur water “afgewys” word. Sy sou daarop bly dryf. ‘n Verdagte se regtertoon is aan haar linkerduim vasgebind en sy is in die water gegooi. As sy bly dryf, was sy skuldig. Die vroue van daardie tyd het egter swaar rokke gedra waarin baie lug opgevang was, wat beteken het dat hulle lank kon dryf. Byna niemand het die toets geslaag nie. Dit is beskou as ‘n oordeel van God. Hy sou op hierdie manier aandui wie skuldig en wie onskuldig was.

Nog ‘n gebruik was die steekproef. Daar is op die liggaam van die verdagte gesoek na hekse- of duiwelstekens, soos moedervlekke, littekens, vratte en geboortevlekke. Vratte is beskou as duiwelstepels waaraan swart katte sou gesoog het. Veral jong vroue is dan heeltemal ontklee en alle liggaamshare is afgeskeer (soos voorgeskryf deur die “Heksenhamer”) om die ondersoek te vergemaklik. Daar is dan aan haar liggaam bewyse gesoek dat sy met die duiwel omgang sou gehad het, wat ook seksuele omgang ingesluit het. Soms is selfs jong meisies hiervan beskuldig. As hulle maagdelikheid dan onaangetas was, het die edele kerkvaders en geleerde regters verklaar dat die duiwel die maagdevlies herstel het. Die “duiwelstekens” is met ‘n skerp voorwerp geprik, en as die verdagte geen pyn toon nie, of daar kom geen bloed uit die wond nie (of te min), was dit ‘n teken dat die verdagte ‘n heks was. Ons Afrikaanse woord “steekproef” kom van hierdie gebeure.

‘n Verdagte is swaar gemartel, totdat sy erken het dat sy met die duiwel omgang gehad het, want erkenning was die enigste ware bewys van haar skuld. Voordat sy op die brandstapel beland het, moes sy ook soveel moontlik name noem van “medeverdagtes”. “Skuldiges” is uiteindelik op die brandstapel met vuur “van levende lijfve ter doot ghebracht”. Daar is geglo dat die heks haar towerkrag deur die verbranding sou verloor. Die meeste vroue is lewend verbrand, maar daar is ooggetuienis bekend van vroue wat eers verwurg is voordat die vuur aangesteek is; dit is as versagtende straf beskou en is toegedien as hulle reeds vroeg in die marteling hulle omgang met die duiwel erken het. In Engeland is die meeste hekse opgehang.

 

 

In 1593 is op die markplein van Ieper ‘n meisie, haar moeder en haar grootmoeder tereggestel. Slegs die meisie is eers verwurg voordat sy op die brandstapel vasgebind is en met ekstra strooi bedek is om haar liggaam uit die oog van die publiek te hou.

Sommige vroue is tydens hulle “verhoor” deur die kerkvaders en geregsdienaars verkrag. Niemand sou dit weet nie, want die vroue was alleen, geïsoleerd, het geen advokaat gehad nie en geen kontak met familie nie. Geen haan sou na haar dood kon kraai oor die misdade wat teen haar gepleeg is nie, en sy is in elk geval beskou as duiwelsgebroed en op pad na die ewige verdoemenis.

Ander voorbeelde van gruwelike marteling was dat vroue vasgebind en onder hulle voete met kerse gebrand is (vuurproef), hulle naels is uitgetrek, hulle is met gloeiwarm tange geknyp en hul duime is in bankskroewe geklem wat voortdurend aangedraai is (sommige bankskroewe was voorsien van getande klemme). Bene in hul liggame is gebreek en hulle is met allerlei instrumente op ‘n pynbank gemartel. Dit het ure lank geduur. Elke vrou het geweet wat die afloop sou wees as sy sou erken dat sy kontak met die duiwel gehad het. Bitter min vroue se gebede is verhoor. Maar dit is wel bekend dat sommige vroue vrygespreek is; ook dat ander die marteling deurstaan het en vrygelaat is. Baie het egter tydens die marteling reeds gesterf en baie het selfmoord gepleeg.

Die teregstellings was op die markpleine van dorpe en stede, en in sommige streke op die “galgenveld” net buitekant die dorp langs die belangrikste toegangsweg. Dit het meestal in die openbaar gebeur, maar dit is bekend dat op sommige plekke ‘n skerm om die brandstapel gebou is sodat die publiek die gebeure nie kon volg nie.  Dit was byvoorbeeld die geval in 1597 en 1601 in Veurne, en in 1605 in Oostende (België).

In 1616 is Bette Blaere in Veurne gevange geneem omdat sy tussen die Vlaamse duine met die duiwel sou gedans het. Bette het erken dat sy daar met ander mense gedans het, maar nie met die duiwel nie. Sy is 26 ure lank ononderbroke gemartel;  die magistrate wat haar moes “verhoor” is elke ses uur afgelos. Uiteindelik het Bette erken dat sy met die duiwel gedans het en sy is op 13 Februarie 1616 tereggestel. Haar dogter, Maye de Waele, was reeds vroeër gemartel en op 29 Mei 1615 tereggestel.

Ook mans is tereggestel. Jan de Deyster van Nieupoort in België was ‘n vrolike man met vyf kinders en het in ‘n beskeie huisie gewoon. Op ‘n dag het hy te veel gedrink en in die strate gesing dat alle priesters towenaars was. Hy is hiervoor gevange geneem en is op 17 Januarie 1603 te Nieupoort met vuur om die lewe gebring.  Een van sy dogters was toe tien jaar oud; sy sou later met ‘n bakker trou en elf kinders kry. Maar ook sy het op die brandstapel gesterf.  Die kerkvaders, regters en ook die gewone bevolking het geglo dat heksery ‘n familietrek was.

Anders as wat algemeen aanvaar word, is nie net ouer vroue en weduwees as hekse vervolg nie. Aanvanklik is wel meer gefokus op medisynevroue, maar later was elke vrou verdag. Uit die 34 hekse wat in Brugge tereggestel is, was 14 weduwees, 14 getroud, 1 ‘n ongetroude moeder en van 5 is geen inligting bekend nie. In Kortryk in België was daar 23 tereggestellings. Hiervan was 9 getroud, 5 weduwees, 1 ongetroud en van 1 was daar geen gegewens nie. In Nieupoort is 20 hekse vermoor. Hiervan was 1 ongetroud, 9 weduwees en 10 getroud. Uit ondersoeke blyk dit dat die meeste hekse getroude vroue was. Hulle mans kon nie ingryp by die vervolging nie en dit het gebeur dat so ‘n man ook in hegtenis geneem en aangekla is as heksmeester. Op hom het dan dieselfde lot gewag as op sy vrou.

In 1613 moes op die “galgenberg” van Roermond (Nederland) 64 hekse tereggestel word. Die groep was egter te groot en die wyse regter het besluit dat vanaf 24 September elke dag twee hekse op die brandstapel moes sterf.

Aanvanklik is alle hekse deur die kerk vervolg en tereggestel, maar later is die “bevoegdhede” oorgedra na die dorps/stadsbestuur. Dat die meeste teregstellings vroue was, blyk uit die volgende statistieke. In Namen was 87% van die veroordeelde hekse vroue. In Noord-Frankryk was dit 86,5%; Veurne 67%; Nijvel 97%; Leuven en Tienen 100%; Togeren 100%; Brugge 70% en Kortryk 67%.

Kenmerkend van die laaste fase van die heksejag was dat dit gemik was op die ryk burgers in die omgewing. In 1628 is in Offenbach in Duitsland nege vroue veroordeel en tereggestel. Hulle besittings is oorgeneem deur die kerk en die dorpsbestuur. Voordat ‘n heks verbrand is, moes sy nog name van “medepligtiges” noem, op wie dieselfde lot gewag het. Toe die Keiser van Oostenryk die bates van alle tereggestelde hekse opeis, het die heksejag opgehou omdat die dorpsbestuur en die kerk niks daaruit verdien het nie. Na ‘n uitgerekte siviel-kerklike geding het die keiser sy eis laat vaar en die vervolging van hekse is hervat. Toe kla die priesters weer dat hulle aandeel in die hekse-buit te klein was, en weer is die vervolging gestaak totdat ‘n ooreenkoms tussen die strydende partye bereik is. Die jag op hekse het “groot besigheid” geword. Geestelikes, regters, dokters, klerke, die beul en knegte van die beul, sipiers, boodskappers en selfs die leweransiers van die hout vir die brandstapel moes uit die nalatenskap van die veroordeelde betaal word. In sommige gevalle selfs die etes van die regters en die priesters tydens die “verhoor”. Die vervolging het opgehou toe daar ‘n tekort ontstaan het aan ryk burgers. In die verloop van twee jaar is 79 persone as hekse verbrand in dié stad met ‘n inwonertal van 2,500 mense.

Angsbevange om as heks aangewys te word, het burgers begin om ander aan te dui as hekse. Daar was later oor en weer beskuldigings en dit het tot groot angs in die gemeenskap gelei. Soms het mense ander as hekse aangewys uit wraak of as gevolg van onderlinge rusies. Twiste oor die buit was algemeen. Toe Keiser Ferdinand II van Oostenryk (1619-1637) die konfiskasie van eiendom verbied het, het die heksejag plotseling opgehou.

Die gemeenskap het verskillend reageer op die heksejag. Vir sommige was dit ‘n groot gebeurtenis wat aanskou moes word. Vir hulle was die jammerklagte en die rou krete uit die kele van die sterwende mense vermaaklik. Ander was baie ingenome met die edele taak wat die kerk onderneem het om die kwaad uit die gemeenskap te verwyder. Nog ander was verbaas, geskok en verskrik. Hulle kon nie glo wat hulle aanskou nie en wou die saak teëgaan, maar was te bang. Mense wat kritiek teen die kerk gelewer het, het spoedig self op die brandstapel beland.

Die voorstanders van die heksejag het gemeen dat die stuiptrekkings wat die sterwendes in die brandende vuur gekry het (as gevolg van die effek van die vuur op die senustelsel), daarop gedui het dat die veroordeeldes inderdaad hekse was. Ook die gille en die krete sou tipies van hekse wees. Die feit dat God hierdie vroue in nood nie te hulp gekom en van die vuurdood gered het nie, was ‘n verdere aanduiding dat dit om regte hekse gegaan het.

Sommige priesters en geregsdienaars het baie moeite gedoen om soveel moontlik vroue op die brandstapel te kry. Hulle het noukeurig boek gehou van elke teregstelling waarby hulle betrokke was, want hulle sou met ‘n edele taak besig wees, die gemeenskap sou hulle respekteer vir hulle moedige optrede en uiteindelik sou ‘n mooi beloning van hulle Hemelse Vader op hulle wag in die hiernamaals.

Biskop Johann von Schöneburg uit Tier (in Duitsland) het tussen 1587 en 1593 in 22 dorpe 368 hekse verbrand. Biskop Philipp Adolf von Ehrenberg het in Würzburg tussen 1623 en 1631 in totaal 900 hekse verbrand. Biskop Gottfried Johan Georg II Fuchs von Dornhem het in Bamburg tussen 1623 en 1633 ten minste 600 hekse laat verbrand.  Dan was daar ‘n regter in Lotharingen met die naam Nicholas Rémy (sterf in 1616) wat baie trots was op die feit dat hy 3,000 hekse laat verbrand het.  Hierdie regter het die kinders wat hul ouers as hekse aangegee het, se lewens gespaar, maar hulle met swepe laat slaan terwyl hulle om die brandstapels van hulle ouers gejaag is.

Dit is nie bekend hoeveel mense uiteindelik as hekse verbrand is nie. Historici bereken dit op duisende (tussen “tienduisende” en twee miljoen). Die owerheid en die kerk het met hierdie teregstellings in sommige gevalle groot geld bekom.

In die middel van die 17de eeu was daar steeds kerkvaders wat die heksejag nuwe lewe wou inblaas om te voorkom dat die duiwel die wêreld uiteindelik sou regeer,  maar teen daardie tyd het die gesag van die kerk al verswak. Wetenskaplike ondersoek, wat voorheen deur die katholiek kerk verbied was, het nou momentum begin kry. Rasionele denke het die gedagtegoed van die katolieke kerk begin verdring. Dit was die begin van baie ontdekkings en uitvindings asook ekonomiese vooruitgang. Die teorieë van Galilei (1564-1642) en Newton (1442-1727) het begin deurwerk na die intellektuele bolaag van die samelewing.

Die heksejag word beskou as die swartste bladsy in die gekiedenis van die Christendom.