Halloween

Halloween is oorspronklik ‘n Keltiese fees en word al baie duisende jare gevier. Vir die Kelte (maar ook sommige ander volkere) was die einde van die dag die tydstip wanneer die son ondergaan. Met die intree van die skemer het die volgende (nuwe) dag begin. Die winter in Europa begin ongeveer aan die begin van November. Die oes is van die lande gehaal en die rustyd kan begin. Die Keltiese nuwe jaar staan bekend as Samhain. Samos = somer, en hain = einde. Samhain = einde van die somer.  Die oorgang van dag (lig) na nag (donker) of die oorgang van somer (lig) na winter (donker) was vir die Kelte van besondere betekenis, want dit het die grens van einde en begin aangedui. Hierdie oorgang na die nuwe jaar is uitbundig gevier.

Die groetwoord hallo is moontlik afgelei van Halloween wat op 1 November (of ook op 31 Oktober) gevier is. Die nuwe jaar word gegroet. Halloween kom van Hallow-e’en of All Hallows Eve, of ook Allerheilige. Halo is 'n simbool vir heiligheid, want die ring (of ligring) wat bo die koppe van Katolieke heiliges afgebeeld word, staan vandag steeds bekend as 'n halo.

Die Kelte het net soos alle ander volkere geglo in die lewe na die dood. Na die dood gaan die lewe voort in 'n Ander Wêreld (hiernamaals). Maar elke jaar sou die poorte van die Ander Wêreld vir één nag oopgegaan het. Dit is die nag van 31 Oktober op 1 November of Halloween. Inwoners van die Ander Wêreld kon in die nag terugkeer na die aard om wraak te neem teen mense wat hulle nie goed behandel het nie (tydens hulle vorige lewe). Hiervoor was die mense op aarde baie versigtig en was dit ook een van die redes waarom Kelte gesorg het dat hulle goed met hulle naaste omgaan tydens die aardse lewe.

Om die wesens uit die Ander Wêreld gunstig te stem het die Kelte vir die besoekers uit die Ander Wêreld kos voorberei en voor die deure van hulle huise neergesit. Om moontlike ongewenste besoekers uit die Ander Wêreld op afstand te hou, is daar vuurtjies in uitgeholde beetknolle (witbeet of suikerbeet) laat brand. Die latere Keltiese emigrante na Amerika het pampoene in plaas van beetknolle gebruik. Verder het die feesgangers van destyds ook maskers gedra om die besoekers uit die Ander Wêreld te verwar. Die vrees het naamlik bestaan dat ‘n lewende persoon maklik deur ‘n besoeker uit die Ander Wêreld meegesleur kon word (om daar gestraf te word vir 'n moontlike wandaad).

Met die kerstening van die Kelte is hard probeer om die fees tot ‘n einde te bring, maar die poging het nie geslaag nie. Die Christene het graag hulle martelare vereer, en die Katolieke kerk het dit goed gevind om ‘n feesdag in te stel ter herdenking aan alle mense wat ter wille van die Christelike geloof gesterf het. Dit het bekend gestaan as Martelaredag. In 732 verander Gregorius III die naam van hierdie feesdag na Allerheilige, en dit is op 13 Mei gevier. In 844 is besluit om Allerheilige voortaan op 1 November te vier. Die bedoeling van hierdie verskuiwing was juis om die Heidense Keltiese Halloween te probeer oorskadu en dit te probeer kersten, en dat die Heidense gebruike hopelik mettertyd tot niet sou gaan.

Alhoewel die fees in Suid-Afrika nie werklik gevier word nie, word dit wel in Amerika en Kanada asook in sommige Europese lande gevier. Talle Europese lande het op 1 November ‘n vakansiedag met die naam Allerheilige. Maar met Allerheilige word ook Halloween gevier.