Die Bybel in die Germaanse Tale

Om die Bybel beskikbaar te stel in die Germaanse tale in plaas van Latyn, lyk na ‘n baie goeie oplossing. Tog was die kerk nie ten gunste daarvan nie. Die kerk was gekant teen ‘n Germaanse skryftaal en om die Bybel in ‘n Germaanse taal te wou vertaal, is beskou as uit die bose. ‘n Uitsondering hierop was die vertaling van gedeeltes van die Bybel in Goties. ‘n Gotiese biskop met die naam Wulfila (311-383) sou in 369 Bybelgedeeltes vertaal het. Hiervoor het hy selfs ‘n eie Gotiese skrifstelsel (mengsel tussen Grieks, Latyns en Gotiese rune) ontwikkel wat van die bekende Gotiese runeskrif afgewyk het. Wulfila was sy hele lewe lank ‘n gerespekteerde biskop, behalwe dat hy die Arianisme aangehang het. Hiervoor is hy later as ‘n ketter aangekla, maar is vry gepleit. Vir sy vertaalwerk was hy nie vervolg nie.

Vanaf die 8ste eeu was die gebruik van die Germaanse skrifstelsel deur die kerk verbode in Midde-Europa (en vanaf die 11de eeu in Noord-Europa). Alle ou Germaanse geskrifte is vernietig. Hierdie skrifstelsel het bekend gestaan as rune. Rune was nie alleen gebruik in skriftelike kommunikasie nie, maar ook by die beoefening van magiese taferele soos orakels. Hierdie laasgenoemde aspek was vir die Christene 'n doring in die oog.

In 1360 verskyn die eerste Bybel (gedeeltelike vertaling) in Nederduits in die Latynse alfabet. Hierdie bybel het bekend gestaan as die Historiebijbel. Die uitgewer sowel as die vertaler(s) was onbekend. Tussen 1452 en 1455 sou Johannes Gutenberg in Mainz, Duitsland, die Gutenbergbijbel uitgegee het. In Mainz was Johannes Gutenberg nie vervolg nie. In 1477 verskyn ‘n meer volledige vertaling in Delft. Die vertaler(s) was ook onbekend. Die rede hiervoor was dat die vertalers bang was vir vervolging. In 1478 verskyn die Keulse Bybel wat byna volledig vertaal was. Dit is deur die Universiteit van Keulen uitgegee. Direk na die verskyning hiervan plaas die kerk ‘n verbod op die verspreiding van hierdie Bybels. Mense wat in besit betrap was van so ‘n Bybel, is swaar gestraf – selfs met die doodstraf.

In 1526 verskyn die eerste volledig vertaalde Nederduitse Bybel in Antwerpen, vertaal en uitgegee deur Jacob van Liesvelt nadat hy goedkeuring gevra en verkry het van die Antwerpse owerheid. Maar die kerk was nie hiermee eens nie. In 1545 is Jacob van Liesvelt deur die kerk in Antwerpen tereggestel omdat hy die Christelike geloof met die uitgee van ‘n Germaanstalige Bybel bespot het.

In 1534 verskyn ‘n volledige vertaling van die Bybel in Hoogduits uit die pen van Martin Luther. Hierdie Bybel is ook uit Hoogduits in Nederduits vertaal en in die noorde van Duitsland, Nederland en België versprei. Martin Luther spring vervolging vry.

Talle uitgewers en verkopers van Bybels in die Germaanse tale moes in hierdie tyd na Duitsland en Engeland emigreer om vervolging vry te spring. Eers aan die einde van die 16de eeu het die kerk besef dat die Hervorming onomkeerbaar was en is die vervolging van ketters langsamerhand gestaak. Hiermee het die vervolging van vertalers en besitters van Germaanstalige Bybels ook aan ‘n einde gekom.

In 1637 is in Nederland die Statenbijbel uitgegee. Dit heet die Statenbijbel omdat die Staten Generaal (Eerste en Tweede Kamer) die vertaling finansieel en moreel gesteun het. Die gesag van die kerk het begin taan en die van die staat het gegroei, en die staat het die Bybelvertaling gesteun. Kyk hier vir 'n digitale versie van die Statenbijbel.

Waarom sou die kerk ‘n heksejag gevoer het teen die Germaanse Bybel (selfs in die Latynse alfabet)? Die antwoord is eenvoudig. Die Germaanse tale is deurspek met woorde uit die Germaanse (Heidense) godsdiens. Woorde soos “ons” of “ooste” of “Asië” dui direk op die Germaanse Gode bekend as “Ase”. Die woord “vrou” kom van die Germaanse Godin Freya!(1) Die woord “duiwel” kom van die Indo-Germaanse God Tiwas. Woorde soos sonde, sondig, sondaar, soen, soenoffer en seun is afgelei van die Germaanse Songodin Sunna. (Sien 'n meer volledige lys van woorde hier.) Om die “Heilige Woord van God” uit die verhewe Latyn te vertaal in ‘n “vuil” Germaanse taal wat met Heidense woorde deurspek was, is as ‘n gruweldaad beskou – die werk van die duiwel self, en was dus totaal onaanvaarbaar. Dit het gegrens aan die onmoontlike en die absurde.

Tydens die vertaling van die Bybel, het die vertalers ook gestuit op 'n ongewone probleem. Dit was die naam van God. Die Nederlandse Statenbijbel was al volledig vertaal gewees met die uitsondering van een item, naamlik die naam van God. Ook tydens die vertaling van die Afrikaanse Bybel het hierdie aspek weer aandag gekry. Totius was 'n voorstander van die gebruik van Jahweh as naam vir God. Die Jode gebruik Jahweh, die Islamiete Allah en die Romaanse volkere Dios (Spaans), Dieu (Frans) en Dio (Italiaans) - afkomstig van Adoon of Adonai - as naam vir God, maar die Germaanse Christene kon nie op 'n naam besluit nie. Uiteindelik is besluit om nie 'n naam te kies nie, maar die neutrale terme 'God', 'Vader' en 'Heer' te aanvaar as 'naam' vir die Opperwese. Die ou Germane het egter hulle Gode ook aangespreek met die titel Heer en Wodan is ook as Vader of Alvader aangespreek. In die Ou Testament kom 'n aantal name voor as aanspreektitel vir die Joods-Christelike God, naamlik: Elohiem, Jahweh, Eljoon, Sjaddaj, Eloah, El, Adoon of Adonai en Jahweh Zebaoth. Hierdie name dui op die bestaan van politeïsme in die ou Kanaän.

(1) Die woord “vrou” was nog in die middeleeue ‘n verhewe woord. Voor ons kerstening het die woord Godin-status gehad, want Freya was ‘n besonder gewilde Godin in die Germaanse taalgebied. Tydens die Middeleeue was die woorde “wyf” en “vrou” steeds albei in gebruik. Met die term “vrou” of “vrouwe” is verwys na dames uit die hoogste stand. Die gewone dame op straat was ‘n “wyf”. Omdat almal aan die hoë stande wou behoort, het die woord “vrou” die stryd gewen teen “wyf” wat vandag as plat beskou word – anders as in die Middeleeue. Vergelyk ook die woord “wife” (Eng) wat vandag die betekenis het van ‘n getroude dame. Terloops, die woord “dame” is ‘n resente ontleding aan die Romaanse tale.